English friends. Translation follows in next post.
DANKBAAR
Ek loop die hele dag met die gedagte om te vertel hoe goed dit voel om iets te beteken vir n vyf jarige dogtertjie.
Gister was my laaste namiddag van laat by die skool bly om die laaste kinders op te pas. Ek het die afgelope week waargeneem as bestuurder van die Voor- en Na-skool sentrum. Ek moes tot ses uur saans bly. Daarna word ouers beboet as hul kinders na ses oplaai. Sommige rek dit natuurlik uit tot op die laaste minuut.
Wel, gister was dit weer sulke tyd.Ek moes tot na ses wag voordat die klein dogtertjie deur haar ouma opgelaai is. Geen verduideliking of verskoning.
Gelukkig was ek nie haastig om huistoe te gaan nie. Violet, was deurentyd maar bekommerd hoekom haar ma nie kom nie. Ek het maar verduidelik dat sy seker maar opgehou is by die werk.
Violet is n unieke klein mensie. Steeks soos n donkie, uitgesproke en baie nuuskierig, ook snipperig en tog heel intellegent omdat sy meeste van die tyd in haar grootouers se sorg is..
Al die ander kinders was reeds huistoe teen kwart oor vyf. Ek het, terwyl ons wag, gesit en een van die kinderspeletjies gespeel op n iPad. Die voorlaaste kinders is weg en ek staan op om te kyk of die “playstation” behoorlik afgeskakel is. My iPad lê op die tafel. Met wat ek my rug draai, glip Violet op my stoel en ek hoor sy speel verder. Ek sê: “Nee, nee, jy mag nie my speletjie speel nie!” Sy sê: “Nee ek speel n ander speletjie.”(Sy het gou n ander iPad gevat en kastig begin speel) Ek draai weer om en sy speel weer op myne. Nou maak ek netsoos sy, en blaas my wange op en kyk kwaai na haar.(Sy geniet dit natuurlik terdeë)Ek gaan terug na die tafel en sê ek wil weer op my stoel sit. Sy skuif op na ander stoel se punt. Ons speel toe saam my speletjie, ek kan kastig nie die speletjie speel nie en sy weet hoe.(Wat sal mens nie alles voorhou aan sulke kleintjies nie.) Ons speel so rukkie. Heel opgewonde skuif haar een been toe oor om half op my skoot te sit. Ons speel heerlik-sy wen die stappe elke keer met n bietjie hulp van my. Op die ou einde sit sy op my skoot en ons is ewe gesellig besig. Violet het vergeet dat haar ma nog nie gekom het nie.Sy was heel tevrede en gelukkig.
Dit bring my by die eintlike deel van die vertelling. Violet, is n vyfjarige dogtertjie, geen pa, ma is nog baie jonk. Haar grootouers doen hul bes om n ogie oor haar te hou. Sy is baie onseker van haar omstandighede. Sy het die oulikste gesiggie met blou sprekende ogies. As mens haar verkeerd opvryf is sy baie moeilik.
Ek voel so dankbaar en ook bevoorreg om die kleine mensie te kan koester. Dis al wat sy regtig vra. n Bietjie liefde en rustigheid.Sy vertrou my totaal en al. Sy sal byvoorbeeld na my toe kom as daar iets nie lekker is nie. Hoe kan n volwassene so n persoontjie seermaak, mollesteer of selfs doodslaan. Dis so onverstaanbaar.
Kinders is so broos en kwesbaar.