FEESTYD
Kersfees Tablo
Kersfees en geen sneeu!
As jy in die Suidelike Halfrond leef, val Desember in die middel van die somer.
Wat maak ons? Ons vergoed deur watte oral te hang en te strooi. Groen vars Dennetakkies of ‘n kersboom rond die toneel af. Dit ruik soos in ‘n bos, vars en skoon.
1955-1959, my Laerskooljare. Vanaf standerd een het ek skoolgegaan in ‘n plaasskooltjie. Net vier onderwysers, vier klaskamers en seker so vyf en sewentig kinders of dalk minder. Ons, as kinders, is altyd afgerig om n pragtige Kersfees tablo te doen aan die einde van elke jaar.
Ons oefen en oefen en nogmaals oefen, om alles te doen en te onthou. Ons het elke oomblik daarvan geniet.
Die dag van die Tablo breek aan.
Die onderwysers en ons kinders het gevoel dat alles nou perfek was. Eers word ‘n paar tafels gerangskik sodat daar genoeg plek vir die koor en die Tablo is. Die tafels was ons verhoog! Twee lakens aan die voorkant dien as gordyne. Later jare het van die ouers ‘n opbreekbare verhoog gebou. Stoele, met verskillende hoogtes, het as trappe gedien om ons op die verhoog te kry.
Aan die eenkant op die verhoog was ‘n krip met strooi wat die toneel afgerond het.
Die aand breek aan.
Juffrou Snyman speel, meer hamer die note, op die klavier terwyl die koor en ouers al die bekende Kersliedere lustig en uit volle bors saam sing. Wat n fees.
Die koor, almal gedrapeer in wit lakens, het glinsterende vlerkies soos engele aan gehad. Hulle het in ‘n halfmaan agter op die verhoog gestaan. Josef en Maria kom op van die een kant. Hulle klop aan elke deur.
“Het julle ‘n plek vir ons om te oornag asseblief?”
Oral dieselfde antwoord:
“Nee, ons is vol!”
Keer op keer.
Ten einde laaste, kry hulle ‘n plekkie in ‘n stal. Baba Jesus slaap in die krip met strooi.
Eerste kom die herders en dan die drie wyse manne. Almal volg die ster wat van eenkant deur een van die engeltjies getrek word. Van die een kant van die verhoog na die anderkant en stop dan bo die stal.
Maria tel baba Jesus op om hom aan die besoekers te wys.
Skielik kom daar ‘n angswekkende gegil uit die gehoor.
“Dit is my pop! Gee dit terug, gee haar vir my. Dis myne!”.
Maria moes maar op die ou end vir Jesus aan haar sussie gee om haar stil te kry.
Ons het sonder baba Jesus verder gegaan en die voorstelling op n hoë noot en in ‘n goeie gees geëindig.
‘n Kersfees om te onthou.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=752602
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).