Dis 1988, Hoërskool Secunda se eenduisend tweehonderd jongmense gons van opwinding. Selfs die onderwysers het ‘n gevoel van opwindende afwagting.
“Agter elke man” is n reeks, op SABC TV1, wat almal volg. Ons leef saam met elke karakter. Geliefde tant Stienie, met haar onderrok wat uithang, sigaret tussen die vingers. Al die drama met haar welaf dogter en dan ook van die ander karakters. Elk speel ‘n oortuigende vloeiende rol. Die volgende episode kan meestal nie gou genoeg kom nie.
Waarom gons dit hier? Ons verwag die einste jonge Steve Hofmeyer(Bruce Beyers, bombastiese jong man in “Agter elke man”) om homself aan ons voor te stel. Die meisies is vir dae al in vervoering. Selfs die seuns gesels oor hom. Ons, as onderwysers, is maar heel skepties oor die hele petalje. In die TV reeks is hy nie juis die beste voorbeeld van prim en propper nie. Dan het die mannetjie nogal ‘n stem om te kan sing ook, en hy is nogal iets vir die oog ook.
Almal is in die saal, sit en wag vir die verskyning van hul held. Dis naderhand ‘n halfuur na die tyd. Steeds geen Steve nie. Ons, as onderwysers, sit op die gallery en wag. Ons raak al kriewelrig van die wag. Die hoofseun en hoofmeisie probeer die orde handhaaf deur allerhande stories te vertel. Die atmosfeer is elektries.
Dan, met spoed verskyn daar ‘n man in ‘n gebleikte denim en wit hemp in die sydeur. Hy spring die trappies twee-twee tot op die verhoog. Die blonde kuif na die eenkant gevee, ‘n groot skewe glimlag op die gesig. Hy waai! Die meisies gil histeries. Hy beduie dat hul moet kalmeer. Hy begin vertel van hoe hy die rol in “Agter elke man” gekry het en hoe hy hom inleef in elke episode. Dan gee hy kans dat daar vrae gevra word. Die beste van die optrede was toe hy die kitaar vat en die tema lied van “Agter elke man” sing!
Ons, as opvoeders,was heel beindruk met die man se manier van praat en optree. Hy het beslis gewys dat hy nie die persoon in die reeks was nie.