Het jy al die gevoel gehad?
Dis Dinsdag, ek en my vriendin het ons Dinsdag kuiertyd by n koffie shop. Ons doen dit nou al seker vir drie jaar, hierdie gekuier oor n koppie tee/koffie.
Die volgende toneel speel hom af terwyl ons kuier :
Aan ‘n tafeltjie buite ons gehoorveld sit die tweetjies. Met skouerlengte swart hare wat sy gereeld saamvat in haar hand en dan agteroor gooi, dan vat sy dit weer saam en gooi dit oor haar skouer. Sy is ingedagte. Langs haar sit, ek neem aan, haar blonde seuntjie. Hy het gejelde haartjies wat regop staan op sy koppie. Blou ogies kyk rond en dan na die speelgoedjie in sy handjies. Mamma is besig op haar foon. Voor haar is ‘n wortelkoek muffen. Daar is ook ‘n sjokolade melkskommel. Sy eet ‘n hap en probeer vir die kind ook gee. Hy wil nie. Draai sy gesiggie weg. Sy gaan aan met haar foon en dan neem sy nog ‘n hap. Sy skep van die versiersel en hou dit voor die seuntjie. Hy eet dit. Hy wil egter nie die koek self eet nie. Volgende is die melkskommel. Steeds bly Mamma besig op haar foon. Sy skep ‘n lepel vol van die boonste skuim af en gee dit vir haar kind. Hy hou daarvan. Sy gee hom ‘n tweede lepel, die derde lepel wil hy nie hê nie. Sy laat hom afklim van sy stoel en hy gaan in die speelplekkie speel. In die tussentyd bly sy besig met die foon. Voorkop geplooi in konsentrasie. Sy bly die hare saamvat en elke keer na agter gooi. Met die hare aksie kyk sy in die kind se rigting om te sien wat hy doen. Tog glo ek nie sy sien hom regtig raak nie. Hy is heel rustig besig met al die speelgoedjies.
Van die oomblik dat ek die vrou en die kind so sien sit het kom die gevoel by my op dat sy bekend kan wees. Die kindjie lyk baie soos sy pa as dit die persoon is aan wie dit my herinner. Kan dit waar wees? Is die twee regtig bekendes wat ek nog nooit ontmoet het en tog vir my die gevoel gee dat dit hulle kan wees.
Het jy al so n ondervinding gehad?
