Geen Valentyn nodig!
Hester se Lê jou eier sê:
Hierdie week se bloguitdaging handel oor daardie Valentyn of Valentynsdag wat jou nog steeds laat bloos van verleentheid.
In my prille jeug was daar nie so-iets soos Valetyn nie. As kind of jongmens moes jy luister na die wyse ouers se vemanings van Vroeg ryp vroeg vrot! Ons drie susters het elkeen ‘n eie belewenis van die vryery stadium beleef. Of dit met Valentyn te doen het maak nie saak nie.
Ek was seker so twaalf of dertien jaar oud toe die volgende met my gebeur het.
Ons het langs ‘n oud skoolhoof gebly. Hulle het bo-op die koppie in ‘n pragtige huis gebly terwyl ons aan die voet van die koppie in ‘n huurhuis gebly het, wat vir my netso mooi en besonders was. Die erwe het daardie dae nog nie werklike omheinings gehad soos wat dit vandag is nie. Daar was grensdrade nie hoë mure nie. Van ons sykant af kon ons deur die draad klim en dan met die leiklip trappies tot bo klim. Dis wat ons as kinders ook gereeld gedoen het as ons vir die oom en tannie gaan kuier het.
Die oom en tannie het net een seun gehad. Hy moes al diep in die twintig gewees het.Volgens my was hy al ‘n oujongkêrel! Hy was ook nie baie vriendelik nie! Hy het ‘n groen MG sportmotertjie gehad wat altyd langs die garage geparkeer was as hy tuis was. Die lekkerste was dat hy ‘n aantreklike vriend in n ligblou Triumph sportmoter gehad het. Die ou het ook langs die garage gestop as hy tuis was. Ek het altyd vir hom geloer (arme man, noudat ek daaraan dink, het gelukkig nie geweet hoe ek ongesiens geloer en van hom gedroom het nie!)
Die storie staan so:
My oudste suster was net op daardie ouderdom van kêrel soek. Sy was vier jaar ouer as ek en in die Hoërskool. Sy het gesien dat die ander ou tuis was. Ons gesels toe so oor ditjies en datjies in die kombuis.
Ousus sê:”Wat kan ons doen om die ou te ontmoet?”
“Ek kan hom nooit vir ‘n koppie tee,” was my antwoord.
“Dit klink goed.” Kom die antwoord.
Ek, ewe kordaat, loop die deur uit, klim deur die draad. Klim trappies uit. Ek klop aan die deur en wag. In die tussentyd roep my suster angstig dat ek moet terugkom!
Die deur gaan oop en hier staan ‘n vreemde man voor my. Gladnie die aantreklike ou of die mense se seun nie. Wat ‘n skok!
“My Ma vra… my ma vra…” verder kom ek nie.
In die tussentyd roep my suster en my Ma my terug. Ek vlieg om en storm die trappies af, terug oor die draad en weg in my kamer. Die ou het al laggende ‘n ent agter my aan gekom. My Ma het verduidelik dat dit sommer ‘n grappie was. Ek het my egter dood geskaam om so ‘n moles aan te vang. Dis heeltemaal buite my doen om so iets aan te vang.
Die man was toe al die tyd nog ‘n besoeker of vriend van die mense op die koppie. Hy was ‘n weeshuiskind wat met tye by die mense gebly het. Ousus het hom leer ken. Hulle het lank uitgegaan. Na haar studies het die vriendskap dood geloop toe sy begin skoolhou het. Ek ken ook nie die hele storie verder nie maar weet wel dat hy op ‘n latere stadium weer kontak gemaak het nadat sy al getroud was.
Dit kom daarvan as jy voorbarig wil wees!