Stokkies-draai

Dit het my meer as ‘n week geneem om te besluit om tog die volgende te vertel.

Na aanleiding van my vorige inskrywing oor die Valentyn wat ek wil vergeet gaan ek verder vertel oor die mense wat langs ons gebly het, meer eintlik die mense langs wie ons gebly het.
Ek was baie lief vir die oom en tannie. Die oom was altyd besig om dinge te verduidelik. Ek het alles ingedrink. Omdat hy ‘n oud skoolhoof was kon hy nie anders as om altyd iets te wys of te vertel nie. Ek het meestal in die middag by hom ‘n draaitjie gemaak as ek sien het hy was buite doenig. Hy het onder andere ‘n interessante stoorkamertjie gehad. So nou en dan kon ek saam met hom daar ingaan. Die mure was vol rakke met boeke. Mense, as jy praat van boeke dan moes jy dit sien om te kan glo.Dit was soos n eie biblioteek. Oom Gernie, het vir my van die boeke geleen om te lees. Hy het baie van geskiedenis gehou en boeke oor die ontdekkingsreise gehad. Dit was maklike leesbare boeke vir my as elf-jarige. Columbus se ontdekking van Amerika was my beste boek. Ek kon myself inleef in hoe dit moes gewees het op die skip. Die lang reis en dan die skielike sien van land.


Jare later het ek in Spanje getoer en in Barcelona by die paleis van koning Ferdinant se trappies gestaan en my voorgestel hoe die ontmoeting met Columbus maande later was. Dit het my sommer koue rillings gegee om te dink dat ek op die plek kon staan waar die gebeurtenis plaasgevind het. In die hawe in Barcelona is daar ook n replika van een van die klein skippies waarmee hul gevaar het.
In 1985 het die oom en tannie vir my Verjaardag twee engelse boeke gegee, “Alice in wonderland” en “My First Fairy Tales” wat ek nog steeds het(2019)
Oom Gernie, het my ook baie van tuinwerk en die natuur geleer. Eendag was hy langs die erfdraad besig.
”Wat maak Oom vandag?”
“Ek draai stokkies,” kom die antwoord.
“Jy vat twee verskillende druiwestokkies/lote. Een van ‘n plant wat goed groei en een van ‘n druiwe stok wat baie goeie vrugte dra. Dan neem jy die stokkies en sny V in die goeie groei een wat onder gaan wees. Die een wat goeie druiwe dra kry n omgekeerde V of te wel ‘n punt wat in die onderste een se V pas. Daarna draai jy die stokkies stewig vas, sodat hul aanmekaar kan groei.
Daar is ‘n gesegde:”Die kinders draai Stokkies”, of hul bly eintlik wederegtelik weg van die skool af. Vroeër jare as dit tyd vir stokkies draai was moes almal help om die druiwestokkies te ent en vas te draai sodat ‘n hele boord vol geplant kon word. Daar is toe gepraat van almal moes stokkies draai en kon dus nie skooltoe gaan nie.”
Vandag bly die gesegde steeds as kinders skool “slip” dat hul stokkies draai.
Ek het daardie middag oom Gernie gehelp stokkies draai.
Die oom was ‘n skraal langerige man, terwyl tannie Gernie ‘n ronde kort tantetjie was. Sy was altyd besig met allerhande teepartytjies. Een slag het die tannie ‘n klomp kindertjies uit die omgewing bymekaar gemaak en ons laat oefen vir ‘n opvoering wat ons vir haar deftige dames moes doen. Ons het geoefen dat dit so klap.
Op die einde was ons almal aangetrek in ons sondagrokkies en het ons
“Liefste Tannie ons bring rosies,” gesing en aan een van die belangrike dames ‘n mandjie met rose oorhandig.
Dit was werklik lekker om twee sulke goeie mense te ken. Later na die oom oorlede is het die tannie na ‘n soort van n ouetehuis getrek. Ek het as volwassene nog ‘n paar keer by haar gaan kuier.Die vriendskap het tot op die einde gehou.


20 responses to “Afrikaanse Tokkel: Stokkies draai”

  1. Tannie Frannie Avatar

    Nou draai die melodie van “Liefste Tannie, ons bring rosies” deur my kop. Watter wonderlike vertelling!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Baie dankie. Die verhoog was sommer n tafel gewees en ons het dit i die tannie se sitkamer opgevoer.

      Liked by 1 person

  2. rondomtaliedraai Avatar

    Jaaaaaaa ek onthou nou nie al die detail nie, maar ek onthou hulle en die vakansies op die plaas baie goed.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      KOmaan suster laat jou gedagtes bietjie gaan. Ek is seker daar is baie dinge wat jy beleef het wat mooi stories kan maak. Probeer tog net!

      Liked by 1 person

      1. rondomtaliedraai Avatar

        Nee wat ek ken my beperkings … dit het die handboeke my duidelik laat besef. Ek het ‘n goeie oordeel oor dit wat werk en ‘n goeie oog vir prente, ek kan nogal logies soek maar skryf is regtig nie op die lys nie

        Liked by 1 person

  3. HesterLeyNel Avatar

    Ja, daardie stokkiesdraai-verklaring is baie interessant Ineke. Wat ‘n mooi verhaal. Ek sien dat daar veral in die VK groot gewag gemaak word van intergenerational care. In sommige gevalle word ouer mense in versorgingseenhede en kleuterskole vir kinders saamgesmelt, omdat die tot voordeel van beide oues en kinders is om bymekaar te wees. Daar moet definitief voordele wees daarin om verskillende generasies saam te gooi as die regerings dit so aanmoedig.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie vir jou mooi woorde. Ek dink ook dit kan goed wees,veral vir ouer mense wat nie juis iemand het en kinders wat nie werklik ouer mense ken nie. Ek het in die ouetehuis in Potties gesien dat die ouens was uitgehonger vir geselskap as ek daar kom. Dit doen hul goed om met jongese te deel. Nou dink ek aan n volgende storie wat ek kan skryf. “Besoek aan n tehuis!”

      Liked by 1 person

      1. HesterLeyNel Avatar

        Nou sien jy! daar is jou skryfspiere nou geprikkel.

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Hul is nou rerig geprikkel na vuurvliegie se storie ook.

          Liked by 1 person

  4. lekkervurig Avatar

    Maak jy nou my skatkis van idiome ryk met die stokkiesdraai verklaring. Dankie Scrapy. Dis mooi onthou ook nog.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ag baie dankie eks bly ek het darem ook iets geweet wat nie almal weet nie. Ek sien nog die prentjie voor my hoe die oom beduie om die stokkies te ent.

      Like

  5. Kameel Avatar

    Wonderlik dat jy soveel as kind by ‘n grootmens kon leer. Dit was nou interessant om van die stokkiesdraai te hoor.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ek was gelukkig altyd n ou wat gesit en luister het na al die stories van die groot mense. Daar is beslis baie wat ek by almal geleer het. Was en is steeds n introvert en sal tjoepstil net luister.

      Liked by 1 person

  6. perdebytjie Avatar

    Ek het altyd gewonder oor die stokkiesdraaigesegde…dankie vir die uitleg. Wonderlike verhaal uit jou jeug, Ineke.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Bly om te hoor dat jy dit geniet het en ook nou weet hoe Stokkiesdraai werk. My jong kind lewe was baie ongekunsteld en baie lekker gewees.

      Like

  7. seegogga Avatar

    Watter wonderlike vrienskap oor die ouderdomsgrense heen! Dis ook die eerste keer dat ek hoor waar die stokkiesdraai idioom vandaan kom. Dankie Ineke!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dit was my geliefkoosde twee mense! Bly jy het iets geleer! Ons het altyd van Stokkiesdraai gepraat op skool.

      Like

      1. seegogga Avatar

        Ja ons praat steeds so!

        Liked by 1 person

  8. de Wets Wild Avatar

    Ek glo hulle het jou net so baie waardeer as jy vir hulle, Ineke!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ek dink ook so. Ons was baie lief vir mekaar.

      Like

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.