Gister, die 9de, is verby sonder dat ek kans gekry het om my inskrywing te doen. Net toe ek wou begin skryf so 7:30nm kom Bertus en Bea hier aan. Ek het te lekker met die klein klits gekuier. Trompie is so jaloers op haar dat ek heeltyd moet keer dat hy haar nie dalk hap nie. Hy het op ou end onder my voete gele en die kat goed uit die boom gekyk. As Bea te naby my kom wou hy opstaan en na haar toe gaan en haar soort van wegstuur van my af. Ek kon telkens my voet op sy rug sit en hom dwing om nie op te staan nie.
Ek en Bea het eers haar blokkies gebou. Dit vorm ‘n kameelperd met sy lang nek as mens die blokkies reg rangskik. Daarna het ons bal gegooi. Ek het ‘n groot tennisbal wat al pap is omdat Mollie dit op ‘n stadium beet gehad het. As ek hom vir Bea gooi probeer sy hom vang(wat sy nog nie so goed kan doen nie). Sy val eintlik bo-op die bal nes ‘n regte rugbyspeler wat ‘n drie druk. Dis ‘n heerlike gelag en geselsery uit ‘n ander wereld. Hul is toe weer huistoe teen so 8:30 want Bea het begin om moeg te word. Was al verby haar slaaptyd, Pappa moes egter Bea wegvat sodat Mamma van haar werk kon doen wat agterstallig was.
Eintlik het ek gedink dat gister niks oplewer nie. Die naskool was heel onrustig met ‘n klompie groot seuns wat ‘n kleintjie uitgetart het sodat hy so kwaad geword het en pad gevat het uit die skoolgrond uit. Gelukkig was ek nie betrokke nie. Ek het binne toesig gehou terwyl alles buite gebeur het.
Ek het wel gister my voorbereiding vir vandag se skryfsessie gedoen wat ‘n wonder is dat ek dit gedoen het.
Vandag, 10de, het ook nog nie veel opgelewer nie.
Voorskool was my goeie oproerige vriend E weer in. Hy wou op PS4 speel maar ek het nee gese omdat hy nog van die jongeres is en alleen wou speel. ‘n Tweede, baie bedrywige seuntjie, kom toe ook in.(Dis die outjie wat gister pad gevat het)Ek het E en hom dadelik laat speel. Hul het Jurassic Park gespeel en elke nou en dan mekaar mooi vertel wat hul nie moet doen nie.Toe ek hul met twee ander kinders omruil was E sommer dadelik opgeblaas omdat hy nie wou he hul moes dit wat hy gebou het gebruik nie. Ek moes hom eers weer mooi herinner daaraan dat hy in sy afkoelhoekie moet gaan sit as hy so maak. Gelukkig het hy afgekoel en op ‘n fiets gespring en gery. Terwyl E gery het, het die ander outjie, noem hom J, vir E getime op die fiets! Terwyl die tyd aantik het E so vinnig as moontlik gery en J het volspoed agterna gehardloop. Lekker moeg, het die twee opgehou toe dit tyd vir klastoe gaan was.
Dit dan vir nou. Vanmiddag gaan ek eers poskantoor toe om pakkies te pos en dan na my skryfsessie wat 1:30nm begin. Ek kan nie die volle tyd daar wees nie omdat ek 2:30 moet ry na my naskool sessie. Die 93jaar oue dame wat ons leidster is gee meestal die nuwe woorde net voordat ek ry. Die groep self gaan nog aan tot 3 uur.
Die lewe is ‘n lied; as mens net daarna wil luister!