Dertien – my gelukkige nommer! Darem toe nie Vrydag nie
Dit het gereën. Hele nag en groot deel van die oggend. Toe ek 2:30nm skooltoe ry was daar nie ‘n wolk te sien nie.
Vanoggend het ek met die wildewragtag E se pa gepraat. Dis ‘n hartseer storie wat net nie ‘n einde het nie. Die ouers gaan nou uitmekaar. Huis sal verkoop moet word en wat kan erger wees as ‘n geskeurde gesin.
Die kinders was vanmiddag weer baie bakleierig. Van die 5 jariges is regte rammetjies uitnek met die ouer seuns. Die ouer seuns terg(boelie) natuurlik ook die kleintjies sodat hul kwaad word vir mekaar. Toevallig het een groot seun se ma en ‘n kleintjie se pa gesien wat gebeur tussen die twee. Ongelukkig is die ouer seun een van die uitdagers en hy het die kleintjie mooi afgebreek voor sy ma deur nie te verduidelik hoe die storie begin het nie. Ai toggie, dis ook maar ‘n gedurige vure doodslaan en vrede maak.
Toe ek vanmiddag net na vyf tuiskom hoor ek die alarm, wat in ‘n huis oorkant die straat, loei. Die huis is n versorgings huis vir minder gegoede mense met “gebreke”. Beroerte, Altzheimers,verlammig.
Ek het maar Trompie gevat vir sy lopie. Toe ek terugkom het die brandweerwa net aangekom. Al die inwoners het buite op die sypaadjie gesit en gestaan. Meeste is in rolstoele. Daar was gelukkig nie ‘n werklike brand nie(dis wat ek dink) Die brandweer ouens het alles veilig gemaak en inwoners kon weer ingaan.

Hier is die bordjies waarop ek gister plakkertjies geplak het. Dis honderd bordjies vir die elektroniese muisvalle wat my seun ontwerp het en wat ons vervaardig in die garage. Daar is 4 bordjies in n panneel wat aan die einde opgebreek word, en in die muisval ingebou word.

