Le-Jou-Eier: Hester het hulp nodig


Hester se:
Ek het hulp nodig om my woorde te snoer en my storie oor die sjinees, die sjef en Batman klaar te skryf. My muse hou heerlik vakansie hier by die see en my storie kom nie klaar nie.
https://www.hesterleynel.co.za/2019/04/11/help-my-om-my-woorde-te-snoer/

Verlief en verlore

Faantjie en Soufie sit in die hoek in die bedompige kroeg. Hul het net oë vir mekaar. Faantjie kwyl sommer van die lekker. Intens kyk hy vir Soufie. Soufie knipper telkens haar skitterende ooglid-versiering en lang wimpers. Die wimpers het sy spesiaal laat inplant die dag voor gister se troue.
Soufie kon haar geluk uitjubbel toe sy ou Faantjie in Alldays raakgeloop het twee weke terug. Sy was oppad land uit. Die gereg is soort van op haar spoor. Faantjie het haar dadelik raakgesien. Hy het haar na sy veraf geleë pondokkie geneem. Haar goed gewys hoe dinge gedoen word en nou is sy soooo verlief dat sy haarself net nie kan inhou nie.
Faantjie het egter ander planne met Soufie.
Die tweetjies het nog so diggies by mekaar gesit toe die deur oopbars en die driemanskap daar inval. Daar is planne gemaak om Botswana in te val en daardie arme mense by Fort Matlaputla te help.Groot sukses!

Lees hier wat gebeur het:
https://perdebytjie.wordpress.com/2019/04/14/drama-in-botswana/

Dis nou twee dae nadat die klomp manne terug is van hul avontuur in Botswana. Nou sit hul en beplan ‘n nuwe avontuur. Faantjie se aandag word heeltyd afgelei deur Soufie se geflikvlooiery. Hy wil ook deel wees van die nuwe uitdaging. Hoe moet hy maak om Soufie weg te stuur sodat sy net bietjie kan kalmeer? Sy is darem ‘n handvol met haar wulpse lyf en al die sterretjies wat oral geplak is. Hy kan haar nie huistoe stuur nie. Polisie sal haar dadelik oppik. Hy besluit om vir “Die manne” te vra of hul haar kan gebruik as lokaas!
Jamie is nog hard besig om die laaste stukkies krokodil te braai terwyl Jackie gou die pampoen ge-king-kong-fo het. Wat Batman besig is om te doen sal maar eers stil oor gebly moet word.
Faantjie staan moeisaam op. Soufie hang aan hom. Hy sleep homself na die Recceman se tafel.
Hester of iemand anders kan dalk ‘n ietsie uit hierdie storie gebruik om verder te snoer.

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is: 
https://fresh.inlinkz.com/party/1a5ae3bc0794453eba4ed3f7c6e95f1d

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Lê-jou-Eier: Eienskappe!


Hester sê:

Vertel ons van jou goeie eienskappe. En van daardie eienskappe waaraan jy werk. En van daardie eienskappe wat jy probeer doodsmoor. Vertel ons wat ander mense van jou sê – watter mooi kompliment het jy onlangs gekry?

Gaan vandeesweek se uitdaging gaan weer kreune ontlok? Ek wil dit nie hoor nie. Ons mag soms oor onsself gesels. Ons mag lief wees vir onsself. Indien nie, gaan sit voor die spieël en werk aan daai beeld. Oukei. Speech verby.


Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging wat vandag om 12:00 pm open: https://fresh.inlinkz.com/p/6061e1ded6fa403bb328f7fe5decfe6d

My eienskappe:

Ek gaan nie sê goeie of slegte eienskappe nie want ek het so n gevoel my eienskappe is so tussen die boom en die bas.
Ek kannie nee sê nie, baie kere ten koste van my eie ekke! Wil altyd help waar ek kan.
Eienskappe waarop ek trots is:
Handvaardigheid of handigheid kan ek met n oop gemoed sê.
Die laaste paar jare kon ek my kreatiwiteit uitleef omdat ek mense gehad het wat vir my omgegee het en my gehelp het om my vaardighede uit te leef.
Eers was daar n vriendin (wie nou die dag oorlede is) wat haar oor my ontverm het.
Sy het my voorsien met genoeg idees en papier om “Scrap book” bladsye te maak vir n vale.
Terwyl ons nie ge-”scrap” het of kaartjies gemaak het nie het sy my aan die gang gesit om haar onvoltooide kwilte met die hand te kwilt. Sy het ook aanhoudend nuwe materiaal gekoop sodat ek nooit sonder kwiltwerk gesit het nie. Ek het met reg gesê honderde kot-kwilte gemaak om te verkoop.


Na n paar jaar met die vriendin en haar papierkuns en kwiltwerk het suster Tina my ingeskryf om n fotografiekursus te doen waarin ek nogal heel goed gevaar het. Sy het ook die gevorderde kursus vir my betaal. Dit het my ook goed besig gehou en ek kon my kunstigheid goed uitleef.


Toe byt die skryfwerk my en ek is trots om te sê dat ek drie e-boeke gepubliseer het.
Die eerste een was “Flash fiction”, tweede een my “Toeka-Tokkel” stories.My laaste een was “My Eie lewe” tot op ses jaar wat ek in boekvorm en n e-boek uitgegee het.
Voordat ek New Zealand toe getrek het het ek ook heelwat gedoen waarop ek trots is.
Ek is baie lief vir diere en het in 2003 ingeskryf vir n kursus in dieregedrag. Ek het dit geniet om meer kennis te bekom i v m diere, en spesifiek hondegedrag.Na die eerste jaar het ek n tweede deel gedoen waar diere gebruik word om as terapie te gebruik. Dit was n toppunt in my liefde vir diere. Ek het dit Cum Laude geslaag.
Dit bring my by n goeie eienskap wat ek het en dit is geduld.Ek het ontsaglik baie geduld maar as dit op is het ek die slegte eienskap om baie kort van draad te raak. Ek werk daagliks aan daardie kort van draad gevoellens want dit lyk of as mens ouer word raak mens se geduld ook makliker op.
Ek is n baie ingekeerde/eenkennige persoon. Dis vir my moeilik om oop te maak omdat ek baie wantrouig is.Dis harde werk om die duiwel van jou skouer af te weer. Tog as ek eenmaal op my gemak is hou mense baie van my. Ek kry gereeld terugvoer van ouers dat hul dankbaar is vir die omgee en liefde wat ek aan hul kinders gee. Dit laat my selfbeeld sommer ophelder as hul so praat. Tot my hoof vertel my gereeld hoe hy my waardeer.
My eienskappe is van een uiterste na die ander.Ek moet gedurig hard werk om n goeie balans te handhaaf.

Skryf-Safarie: ‘n Feëverhaal


Het jy ‘n feeverhaal? Ek daag jou uit: Skryf ‘n feeverhaal: oor jou eie lewe of ‘n deel daarvan, oor ‘n bekende se lewe, oor die politieke situasie van ons land, of oor enige werklike gebeurtenis. Maak dit ‘n feeverhaal ( of ‘n fabel) en vertel vir ons ‘n storie.

So daag Seegogga

die lewe is ‘n feeverhaal

‘n Tragiese verhaal met n mooi einde geskryf deur Scrapydo

Die twintigste eeu. Om en by die 1970tigs.
Sandra is n stil, eenkant mens weens omstandighede buite haar beheer. Sy voel nie regtig eensaam nie want daar is daagliks verskillende werkies wat sy moet doen.
Sy hou al vier jaar skool vanuit haar ouerhuis. Die plaaslewe is in haar bloed. Daagliks word diere versorg voor sy die skoolbus langs die hoofpad kry om haar na haar vierman skooltjie te neem. Die rit is maklik n halfuur se ry. Daar is n kortpad wat n nou en dan geskraapte hobbelige pad vol klippe en gate insluit, veral nadat dit gereën het. Sandra geniet elke oomblik van die rit omdat dit tussen berge en bosse deur loop. Die skooltjie nestel ook aan die voet van die berge.
Die jaar 1971 is n opwindinde jaar. Sandra gaan haar vlerke sprei en by n ander skool werk. Dis ver van haar ouerhuis maar sy sien uit na die verandering. Dan is daar ook n toer wat wag in die Desembervakansie. Sy gaan Suid Amerika besoek saam met n toergroep. Heel opwindend.
Kersfees was Sandra in Sao Paulo. Nuwe jaar in Brasilië het gesorg vir n avontuur op sy eie.
Terug by die huis, na n drie weke avontuur gelaaide vakansie, pak Sandra haar aardse besittinkies in twee tasse en vertrek na haar nuwe omgewing. Sy bly die eeerste jaar in die koshuis wat haar, as stil en naiewe mens, baie grys hare gegee het.
Die lewe was steeds eensaam. Sandra het egter al, toe sy nog tuis gebly het, gereeld die Landbouweekblad se Opsitkers bestudeer. Sy het vir verskeie persone geskryf. Omdat sy skrikkerig was vir n vehouding het sy altyd ouens gesoek wat ver weg bly sodat daar nie ontmoetings kon wees nie.
Noudat sy egter op haar eie bly het sy braaf geraak. Sy het vir ouens nader aan haar geskryf wat uitgeloop het op ontmoetings.Ongelukkig was dit net vinnig vriendskappe want die meeste het net n lêplek gesoek vir die aand. Die ondervinding het Sandra se oë geopen as dit by die werklike lewe kom.
Skielik het die korrespondensie verander. Sandra en haar een vriendin het die een ou uitgekyk of liewer uitgelees.
Hy was die sjarmantheid vanself. Hy stuur gedroogde blomblaartjies, klippies, skryfgoed – potlode en uitveërs. Dan ook musiek. Musiek opgeneem op bandjies. Elke week n ander een. Die musiek so meesleurend romanties. Hy het meeste musiek van sy massiewe versameling plate opgeneem. Hy was lief vir “Tot middernag slaan” wat Fonnie du Plooy aangebied het. Ook kort Bybelverse en preke word gestuur.
Dit het Sandra se voete onder haar uitgeslaan. Hul reël om te ontmoet. Daar was elektrise blitse tusen hulle.
Sandra was in die sewende hemel, onwetende wat op haar wag. Ouers word gevra. Die troue word gereël. Alles perfek.
Die twee is lief vir mekaar. Hul is geesgenote. Die romanse blom.Sandra is werklik gelukkig. ‘n Jaar later word n seuntjie gebore. Nou is beide eers in hul element. Sandra aanbid die grond waarop haar man loop. Tog is daar half n bewolktheid op die horison.
Sandra kom een middag  van die skool af nadat sy haar seuntjie by die bewaarskool opgelaai het. Sy gaan slaapkamer toe en ontdek n foto wat met n polaroid kamera geneem is. Haar geliefde besig met dinge wat Sandra tot in haar fondament skok. Sy konfronteer hom daarmee en hy belowe dit was net n eenkeer ding. Hy sal dit nooit weer doen nie.
Ongelukkig het Sandra nie geweet dat haar geliefde n probleem met straatmeisies het nie. Dit het vir n paar jaar aangegaan. Sandra was gebreek. Sy het egter steeds die lewe in die oë gekyk en gemaak of niks verkeerd is nie.
Toe gebeur dit dat haar geliefde geld wou hê wat sy nie wou gee nie. Hy sluit die huis sodat sy nie kan wegkom nie. Gryp haar aan haar arm en wou haar met geweld dwing om saam bank toe te gaan om geld oor te betaal. Gelukkig het Sandra kop gehou, toe hy haar vasgryp het sy sy toekoms omtrent weggeskop. Dit het nie weer gebeur nie! Hy was maar skrikkerig vir haar na die tyd.
Die omstandighede met buite egtilike verhoudings het net vererger. Telkens het sy weer vergewe.Na vele besoeke aan psigiaters en behandeling het Sandra met die hulp van n vriendin by n prokureur uitgekom wat aanbeveel dat sy so gou as moontlik uit die huis moet padgee.
Sandra gaan huistoe en konfronteer haar man.
“Ek was by n prokureur en hy het aanbeveel dat ek onmiddelik die huis moet verlaat.”
“Wat, jy gaan nie my kind van my wegvat nie!” Dreigend kom hy nader. Hy gryp Sandra aan haar keel en sis:”Jy sal nie!” Sandra sien in sy oë dat hy die kluts kwyt is. As sy nou n verkeerde ding doen is dit klaarpraat met haar. Gelukkig kalmeer haar man dadelik toe hy besef wat hy wou doen. Hy gryp n mes waarmee hy altyd hoenders geslag het, kap dit met geweld in die staal wasbak. Die tafel was gelukkig tussen hul twee. Sandra vlug weg. Sy kry vir kleinding en gaan na die prokureur toe wat haar vir die nag blyplek gee.
Die egskeiding was onaangenaam. Sandra se man het sy werk opgesê en n boemelaar geword. Sy het steeds met tye hom onderdak gegee omdat dit steeds haar kind se pa is. Na twee jaar van hel en sukkel om alles te doen om aan die lewe te bly pleeg Sandra se eks-man selfmoord in haar garage.
Almal het gesê dis ten goede nou was sy ontslae van die monster. Sandra was steeds oneindig lief vir haar man.
Stadig maar seker het sy weer begin helder dink. Ander werk gekry. Sy trek na n plattelandse dorpie toe waar sy n nuwe lewe begin. Sy ontvang haar man se pensioen wat hy aan haar bemaak het. Sandra belê dit sodat haar kind kan gaan leer na matriek. Haar eie pensioen se uitbetaling het gemaak dat sy n meenthuisie kon koop. Die lewe het uiteindelik beter en beter geword vir Sandra. Sy moes steeds werk om aan die lewe te bly maar daar was nie meer daardie stress en wonder van wat gaan volgende opduik nie.
Vandag bly Sandra naby haar seun in n vreemde land. Hy onderhou haar deur vir haar huisvesting te betaal. Sy moet steeds werk want haar pensioen is maar n druppeltjie in die daaglikse lewensemmer van voorsiening.
Sandra bly in n poskaart mooie plekkie, tussen groen heuwels. Sy loop elke dag met haar geliefde hondekind en verwonder haar elke oggend en aand aan die son wat opkom en ondergaan met van pienk,roos tot rooi en goud, oor n rustige geliefde huisie in die vreemde wat nou haar blyplek is.

IMG_3261

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Lê-Jou-Eiers: Fluister liefdeswoordjies


Praying Mantis

Hot Lady en Stokkies het mekaar in die verbygaan raakgeloop.

Stokkies, op soek na sy droomvroutjie en Hot Lady na die beste vader vir haar nageslag. Die probleem met Hot Lady is dat sy ander motiewe ook het terwyl dit vir Stokkies net gaan oor die plesiertjie van die oomblik.
Die tweetjies mik-mik vir mekaar.
Hot Lady fluister sodat Stokkies nie mooi kan hoor nie:
“Kom, hou my teer vas met daardie stekelrige kloutjies. Fluister soet woordjies in my oor. Kom, kom skatlam sit hier neffens my sodat ek jou kan kielie en saggies streel.”
“Nee wat ou groot ogies jy maak my lus vir lekker lepel lê soetste warm poppie. Kom jy nader na my toe ou suikerbekkie. Toe, toe moenie so met jou voelertjies dartel nie!”
Stokkies kyk Hot Lady met leep oë aan terwyl Lady met wellus na ou Stokkies kyk.
Die tweetjies betas mekaar vir n oomblik. Voordat Stokkies oorgaan tot die daad is hy stewig vasgeklem in Hot Lady se kloue. Haar kake kwyl van die lekker kry. Oeps, weg is n stuk van Stokkies se uitpeulogie. Hy spring vinnig in en doen sy ding terwyl Hot Lady smul aan die lekker sappige happie.

Stokkies kry slegs n laaste lang uitgerekte:”S..u..g..” oor sy kakies. Hy sidder vir oulaas en weg is sy hele kop en bo-lyf.
Hot Lady behaaglik:” Dit was hemels Stokkies my skat.”

;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Lê-Jou-Eier: Gee en Ontvang


IMG_2899

 

Om te gee is volgens my ondervinding baie makliker as om te ontvang. My idee, as ek gee, is nie om iets terug te ontvang nie. Ek doen die gee uit eie wil, liefde en oorgawe.
Ek het twee weke terug, vir vier weke, n dame se huis en ou Boarder Collie opgepas. Meestal gaan dit daaroor dat die huis nie leeg staan nie, en ook dat die honde(diere) nie ten duurste in n honde-hotel hoef te bly nie. Ek vra n klein bedraggie per dag om die diere te versorg. Die versorging gaan gepaard met vrywillige liefde en aandag wat ek hul gee. Die diere neem meestal n dag of twee en hul eet, soos die spreekwoordelike, uit my hand en vertrou my ten volle. Hul gee dan natuurlik ook al hul liefde vir my.
Hierdie keer se oppas was nogal moeilik. Dit het baie van my gevra om die sestienjarige hond te versorg. Die weer het ook nie saam gespeel nie.Dit was koud en nat. Tog het ek alles gegee wat ek kon om die dier gemaklik te maak. Sy het op die einde my ook gevolg, waar ek ook al gaan. As sy my skielik raaksien buite, sal sy op n drafstappie naderkom. Stertswaaiend haar neus onder my hand sit om te wys sy is bly om my te sien,of asof sy sê: “Aaa, hier is jy. Bly om jou te sien.”
Dit is vir my lekker om alles vir diere te gee. Hul gee so veel aan jou terug.
Die dame van die huis het my betaal toe sy teruggekom het. So n dag of wat later stuur sy n boodskap en vra of ek sal omgee as sy my nog geld gee vir die oppas. Sy was so tevrede en gelukkig met wat ek gedoen het dat sy voel om my nog meer te vergoed. Ek het haar gesê as sy so voel kan sy maar. Ek het ook gesê dat die liefde wat Meggie vir my gegee het vir my meer as genoeg.
Hierdie episode wys dat as mens met liefde gee, ontvang mens dubbeld terug.
Ek kan van verskillende geleenthede vertel van waar ek gegee het en waar daar uit die bloute ontvang kan word ook.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.