Liewe Dagboek: Dag 31 Mei


Ek het gister vergeet om te vertel van wat gebeur het toe ek aanmeld vir my namiddag naskool sessie. Ek moet altyd by die kantoor aangaan om die register te kry en ook ‘n boekie waarin die name aangeteken word van ekstra kinders wat die middag daar gaan wees. Ons het die gewone daaglikse groep en dan die klomp aanhangsels. Hul is die kinders wat net so nou en dan na skool moet bly. Die ouers bel en boek die kinders dan in. Daar is natuurlik die ouers wat nie die moeite doen om te laat weet nie en dan het ons ‘n hele onderonsie met kinders, ouers en die kantoor dames. As ons nie weet dat die kind ingeskryf is nie kan hul nie verwag dat ons hul moet oppas nie. Dis waar die probleem dan inkom; kinders word die oggend aangese om naskool toe te kom en ons is nie regtig veronderstel om na hul te kyk as dit nie ingeboek is nie. Die kinders kan dit nie help nie maar ons voel party dae baie ongelukkig as ouers sulke dinge doen. Dis meestal ook dieselfde ouers wat dit doen, en die egste is nog dat dit ook die beheerliggaam ouers is.
Nou het ek afgedwaal van wat ek eintlik wou vertel oor toe ek by die kantoor kom. Die sekretaresse, die kleintjies se onderwyseres en ‘n klein seuntjie is besig om met mekaar te praat. Die seuntjie is totaal deurmekaar. Elke vraag wat die twee dames vra antwoord hy met ‘n:”No, no”. Hy hou sy een handjie vas en wil nie he dat die tannies na die armpie kyk nie. Hy bly vir alles: “No, noooo!” Ek hoor toe dat die kind in die klas geval het. Hy was totaal die kluts kwyn van onststeltenis en ek vermoed pyn ook. Hy wou nie op die bed sit nie, nie by die sekretresse bly nie, hy wil nie beweeg nie. Nes hy roer roep hy aanhoudend: “No, no.” Sekretaresse het die ma gebel en die sou kom om hom te haal. Ek het toe aangegaan met my werk.
Vanoggend het ek gevra wat verder gebeur het met die kind. Selfs sy ma kon niks met hom uitrig nie. Hy moes in erge pyn en aan skok gelei het. Blykbaar is sy armpie gebreek net onderkant sy elmboog. Arme dingetjie. Ek het lanklaas een gesien wat so geskok en verbouereerd was deur die omstandighede.
Die hele nag en vanoggend het dit steeds hard gereën. Die wind het ook amper ‘n mens van jou voete afgewaai. Hier is altyd meeue wat rondvlieg op soek na iets om te aas. Die wind het hul skoon weggewaai. Die Huttrivier was ook tot oorlopenstoe vol.
Dis’ n lang naweek hier. Die koningin se verjaarsdag word Maandag gevier al is dit nie regtig haar verjaarsdag nie. Die verkeer was van vroeg middag erg gewees met mense wat naweek gaan hou. Die weer gaan nie saamspeel nie. Daar word koue verwag en heelwat sneeu vir die Suid-Eiland. Ons gaan ook blykbaar goed koud kry more.
Ek het vanmiddag voordat ek skooltoe is eers my weeklikse skryfsessie bygewoon. Ons was vandag net vier gewees. Dis eintlik lekker as ons nie so baie is nie. Ons kan dan lekkerder gesels oor die stukke wat geskryf is.
Terwyl ons met ‘n bespreking besig was was daar ‘n harde slag en ‘n ou se knie breek deur die plafon. Gelukkig was daar nie mense wat om die tafel gesit het waarop die stukke geval het nie. (Ons doen die skrywery in ons plaaslike biblioteek.) Ek het die petalje gade geslaan. Die een man van my groep staan op om te kyk wat aangaan. Met die staan die groepleier(’n tannie van 93 jaar) ook op en stap reguit na die plek toe. Ek beduie vir die ander skryf vrou dat die ou dame nie onder die plafon moet loop nie vir ingeval daar verder stukke afval nie. Elkgeval, sy het dit aangemeld. ‘n Rukkie later kom die werker kyk wat die skade is. Die bibliotekaresse het ook kom kyk. Die ou was besig om iets te doen op die plafon toe hy te hard op sy knie gedruk het en sodoende die plafon stukkend gedruk het. Dit kon nogal ‘n dilemma afgegee het as daar mense aan die tafel gesit het en die stukke plafon op hul geval het.
Die middag se kinders oppas was nie te sleg nie. Hul kon darem buite woel en werskaf. Die weer het sommer vroeg verander.Dis ysig koud buite.
Ek gaan gou Trompie laat loop en dan lekker slaap. More is Saterdag en ek hoef nie vroeg op te staan nie.
Dit dan die laaste inskrywing vir Mei. Ek het dit gemaak, joegaai!

Advertisements

Skryf-Safarie: Bordspeletjies.


Abrie dink hardop Dink aan bordspeletjies vir die week se Safarie.

 

Bordspeletjis was baie gewild in my kleintyd. Daar was nie TV en al die moderne tegnologie ,van vandag , om ons besig te hou nie. Dit was altyd lekker om bordspeletjies te speel as n grootmens saamspeel. As kind het jy altyd probeer om die volwassene uit te oorlê. Baie male, as net ons kinders gespeel het, het dit uitgeloop op n stryery van n ander wêreld. Elkeen wou altyd wen.
Ons het baie slangetjies en leertjies, en dambord gespeel. Ludo was ook een van ons beste speletjies. Dan n speletjie wat ons “vlooi” genoem het. Daar word n plastiese houertjie gebruik. Elkeen kry n groot ronde skyfie en dan moet jy kyk hoeveel klein skyfies jy kan inwip in die houertjie. Mens druk op die buitenste kantjie van klein skyfie met die groot skyfie om die kleintjie in die houertjie te wip. Elkeen kry bv drie beurte en die een met meeste in houertjie wen.
Vingerbord of vingerbagatel is glo volgens dr Google n tipiese Suid Afrikaans ontwerpte bordspel.
Dit was die jaar 1969. Snerpend koud in Britstown. Ek en my Pa het melkbokke gaan oplaai by een van die groot melkbokboere. Ons het gebibber van die koue die aand op die plaas. Toe haal die boer, wat self nog n jong ongetroude man was, n vingerbord uit die kas. Eerste keer wat hierdie stadsjapie te doen gekry het met n aand voor die kaggel. Toegedraai in komberse en die vingerbord tussen ons op die tafel.
Wat n gedoente. Ons kon net nie ophou speel nie. Naderhand het ons so warm van al die opwinding gekry dat die komderse nie meer nodig was nie. Ons het amper deurnag gespeel. Na een eers gaan slaap. Ek het later jare my eie vingebord stel gekoop wat oral saamgetrek het in my omswerwinge. Ongelukkig het hy nie saam NZ toe getrek nie.

 

Hier by my skool waar ek naskool en voorskool diens doen het hul tonne bordspelletjies. Dink julle dit word gebruik?
Nie regtig nie. Partymaal as daar een outjie is wat nie n iPad het nie sal hul n speletjie speel. Die beste is natuurlik dat ek moet saamspeel. Hier is n stel kaarte met prente op van Barby, Ken en nog n klomp ander. Mens pak hul onderstebo en tel een op. Draai hom om. Tel nog een op en as dit dieselfde is as eerste een vat die persoon die kaarte. As dit nie dieselfde is draai hul weer om en volgende een kry n beurt.

Daar is ook n lekker bordspeletjie wat lyk my nie meer hier is nie. My “super” hou van gedurige opruim en skoonmaak. Dink sy het hom weggegooi want hy was al gehawend. Om terug te kom na die speletjie:
Dis ‘n kaart van Nieu Zealand en al die belangrike dorpe en stede. Die name word vooraf met kaartjies toegemaak. Daar is plek vir 4 spelers. Rondom NZ is daar n paadjie met name op die paadjie. Mens gooi n dobbelsteen. Skuif jou “pion” wat n Kiwi, pikkewyntjie, Weka en Nog iets is. Jy hop dan die hoeveelheid blokkies. Die naam waarop jy land moet jy dan raai waar hy is en sy kaardjie afhaal. As jy verkeerd is sit die kaartjie terug.

Dis vir my n moeilike speletjie omdat ek nie al die name en plekke ken nie. Ek leer gelukkig darem terwyl ek speel, want Ineke moet altyd saamspeel!
Hier is n paar speletjies wat ek sommer in die kas afgeneem het.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Lê-Jou-Eiers: Fluister liefdeswoordjies


Praying Mantis

Hot Lady en Stokkies het mekaar in die verbygaan raakgeloop.

Stokkies, op soek na sy droomvroutjie en Hot Lady na die beste vader vir haar nageslag. Die probleem met Hot Lady is dat sy ander motiewe ook het terwyl dit vir Stokkies net gaan oor die plesiertjie van die oomblik.
Die tweetjies mik-mik vir mekaar.
Hot Lady fluister sodat Stokkies nie mooi kan hoor nie:
“Kom, hou my teer vas met daardie stekelrige kloutjies. Fluister soet woordjies in my oor. Kom, kom skatlam sit hier neffens my sodat ek jou kan kielie en saggies streel.”
“Nee wat ou groot ogies jy maak my lus vir lekker lepel lê soetste warm poppie. Kom jy nader na my toe ou suikerbekkie. Toe, toe moenie so met jou voelertjies dartel nie!”
Stokkies kyk Hot Lady met leep oë aan terwyl Lady met wellus na ou Stokkies kyk.
Die tweetjies betas mekaar vir n oomblik. Voordat Stokkies oorgaan tot die daad is hy stewig vasgeklem in Hot Lady se kloue. Haar kake kwyl van die lekker kry. Oeps, weg is n stuk van Stokkies se uitpeulogie. Hy spring vinnig in en doen sy ding terwyl Hot Lady smul aan die lekker sappige happie.

Stokkies kry slegs n laaste lang uitgerekte:”S..u..g..” oor sy kakies. Hy sidder vir oulaas en weg is sy hele kop en bo-lyf.
Hot Lady behaaglik:” Dit was hemels Stokkies my skat.”

;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;;

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).