Afrikaanse Tokkel: Stoepstories


Vuurvliegies en meer

Hierdie skrywe kom na aanleiding van Lekkervurig se naamsverandering na Vuurvliegie. Lees hier wat sy skryf!

So loop ek Maandagoggend vroeg met Trompie en broei oor die naam van die ander lampdraertjies. Ek kon net nie daarop kom nie.
Ek dink toe ver terug aan ons dae van op ons stoep sit.

Saans so van na agt tot so half tien het ons altyd in die donker op ons stoep gesit. Ons het buite op n plot gebly waar geen elektrisiteit was nie. Daar het net n parrafienlamp in die kombuis gebrand. Verder was alles donker.
Na n harde dag het ons op die stoep gesit en sommer net die heerlikheid van die koelte na n hetige Hoëveldse dag geniet. Net die naggeluide was om ons. Dan as mens so oor die grasperk kyk sien mens die liggies wat skyn. Die kleinste wurmpie met n liggie op sy stertjie wat lustig brand.
Daar val dit my toe by terwyl ek so loop en terugdink; dis n GLOEIWURMPIE!
Die natuur is darem te wonderlik vir woorde.

Die outjie is nie heeltemaal soos die wat ek onthou nie.Ons sn was meer wit


1961-1972 Terwyl ons so rustig op die stoep sit wag ons party dae ook vir die satteliet wat verby moet kom. Daar is meestal oor die radio aangekondig hoe laat die satteliet gesien kan word en waarvandaan en waarheen hy vlieg. Dit was altyd vir ons n hele opwinding om te sien wie dit die eerste raaksien tussen al die duisende sterre.
Ons het dus ligdraertjies op die grasperk en mensgemaakte ligdraers in die lug gehad.
Lekker goeie ou dae.

In 2016 besoek ek die Waitomo glowworm caves. Dit was n belewenis uit n ander wêreld met al die wurms wat aan slymdrade hang en hul liggies laat skyn om goggas te lok.

Afrikaanse Tokkel: Stokkies draai


Stokkies-draai

Dit het my meer as ‘n week geneem om te besluit om tog die volgende te vertel.

Na aanleiding van my vorige inskrywing oor die Valentyn wat ek wil vergeet gaan ek verder vertel oor die mense wat langs ons gebly het, meer eintlik die mense langs wie ons gebly het.
Ek was baie lief vir die oom en tannie. Die oom was altyd besig om dinge te verduidelik. Ek het alles ingedrink. Omdat hy ‘n oud skoolhoof was kon hy nie anders as om altyd iets te wys of te vertel nie. Ek het meestal in die middag by hom ‘n draaitjie gemaak as ek sien het hy was buite doenig. Hy het onder andere ‘n interessante stoorkamertjie gehad. So nou en dan kon ek saam met hom daar ingaan. Die mure was vol rakke met boeke. Mense, as jy praat van boeke dan moes jy dit sien om te kan glo.Dit was soos n eie biblioteek. Oom Gernie, het vir my van die boeke geleen om te lees. Hy het baie van geskiedenis gehou en boeke oor die ontdekkingsreise gehad. Dit was maklike leesbare boeke vir my as elf-jarige. Columbus se ontdekking van Amerika was my beste boek. Ek kon myself inleef in hoe dit moes gewees het op die skip. Die lang reis en dan die skielike sien van land.


Jare later het ek in Spanje getoer en in Barcelona by die paleis van koning Ferdinant se trappies gestaan en my voorgestel hoe die ontmoeting met Columbus maande later was. Dit het my sommer koue rillings gegee om te dink dat ek op die plek kon staan waar die gebeurtenis plaasgevind het. In die hawe in Barcelona is daar ook n replika van een van die klein skippies waarmee hul gevaar het.
In 1985 het die oom en tannie vir my Verjaardag twee engelse boeke gegee, “Alice in wonderland” en “My First Fairy Tales” wat ek nog steeds het(2019)
Oom Gernie, het my ook baie van tuinwerk en die natuur geleer. Eendag was hy langs die erfdraad besig.
”Wat maak Oom vandag?”
“Ek draai stokkies,” kom die antwoord.
“Jy vat twee verskillende druiwestokkies/lote. Een van ‘n plant wat goed groei en een van ‘n druiwe stok wat baie goeie vrugte dra. Dan neem jy die stokkies en sny V in die goeie groei een wat onder gaan wees. Die een wat goeie druiwe dra kry n omgekeerde V of te wel ‘n punt wat in die onderste een se V pas. Daarna draai jy die stokkies stewig vas, sodat hul aanmekaar kan groei.
Daar is ‘n gesegde:”Die kinders draai Stokkies”, of hul bly eintlik wederegtelik weg van die skool af. Vroeër jare as dit tyd vir stokkies draai was moes almal help om die druiwestokkies te ent en vas te draai sodat ‘n hele boord vol geplant kon word. Daar is toe gepraat van almal moes stokkies draai en kon dus nie skooltoe gaan nie.”
Vandag bly die gesegde steeds as kinders skool “slip” dat hul stokkies draai.
Ek het daardie middag oom Gernie gehelp stokkies draai.
Die oom was ‘n skraal langerige man, terwyl tannie Gernie ‘n ronde kort tantetjie was. Sy was altyd besig met allerhande teepartytjies. Een slag het die tannie ‘n klomp kindertjies uit die omgewing bymekaar gemaak en ons laat oefen vir ‘n opvoering wat ons vir haar deftige dames moes doen. Ons het geoefen dat dit so klap.
Op die einde was ons almal aangetrek in ons sondagrokkies en het ons
“Liefste Tannie ons bring rosies,” gesing en aan een van die belangrike dames ‘n mandjie met rose oorhandig.
Dit was werklik lekker om twee sulke goeie mense te ken. Later na die oom oorlede is het die tannie na ‘n soort van n ouetehuis getrek. Ek het as volwassene nog ‘n paar keer by haar gaan kuier.Die vriendskap het tot op die einde gehou.