Hester van https://www.hesterleynel.co.za/2019/02/21/ons-vier-moedertaaldag-afrikaans/
Stel die volgende voor vir hierdie week se Eier-leery
Ek het die volgende varsgebektes geniet:
- “iemand weet nie waar sy vierkantswortel sit nie” – gesê van ‘n persoon wat deurmekaar is
- “vinkkoors” – ‘n middeljarige metgesel se behoefte om ‘n huis oor te doen
- “die lakens uitdeel” – verwys na ‘n persoon wat baas speel in die huis
- “iemand se donkie draf” – beteken iemand is knorrig
As ek nou hierdie vier uitdrukkings so bekyk, lyk dit vir my na ‘n lekker storie soos wat hy net verwoord kan word in Afrikaans. Dis dan vandag se Lê-Jou-Eier uitdaging: gebruik hierdie vier uitdrukkings en skryf ‘n storie. Gebruik al vier, of enige een, twee of drie van die uitdrukkings, nes jy wil. Kom ons vier Moedertaaldag 2019 in blogger-styl.
Eers het ek gewonder wat ek kon doen om dit te doen toe gee Lekkervurig aan die hand: skryf net en redigeer later. Ek dink toe aan die storie wat Vrydag by die skool afgespeel het.
Middag, 22 Februarie, skooltyd vir my. As ek die klas inkom begin my donkies sommer draf as ek dink aan wat voorle. Eerste wat ek doen is om twee sjokolade koekies te eet. Ons het ‘n spesiale houer met koekies vir die kinders. As hul inkom mag hul twee koekies vat en ‘n koppie met water, as hul wil. Die water was voorheen ‘n aangemaakte, nagemaakte vrugtedrankie; ene suiker. Die skool neem deel aan geen “soft drinks” of gaskoeldrande nie. Dit gaan oor die kinders wat oorgewig is en slegte tande het. Nou het hul dit ‘n “drink water” speelgrond gemaak.
Na die twee koekies kom die vinkkoors in aksie en ek begin die lys van name neerskryf van die die kinders wat die middag daar gaan wees. Eers is dit die outjies wie se ouers skielik besluit het om hul later te kom haal. Daar is ‘n boekie waarin die sekretaresse versoeke skryf van die ouers. Hul kom bo-aan die lys. Dan volg ek die lys van almal wat op ‘n Vrydag daar gaan wees. Ons moet dit doen sodat ons kan gaan kyk waar die kind is as hul nie opdaag nie. Ons het probleme met sommige ouers wat nie die skool laat weet dat hul die kind oplaai nie, dan gaan soek en as dit is bel ons om te hoor waar die kind is. Party ouers kan so lekker sommer vergeet waar hul vierkantswortels is en ons nie inlig nie. Die meeste neem ons darem in ag en kanselleer betyds.
Die kinders kom een-een aan. Die name word afgemerk. Hul hang hul tasse op, kry hul koekies. Nou is dit ‘n geraas en ‘n gehardloop uit ‘n ander wêreld want dit reën buite en hul moet binne bly. Drie seuns is met die intrap slag al in ‘n uitbundige, remoerige toestand.
Terwyl my Bestuurder die name in die register skryf, gaan ek solank die PS4 aan die gang kry sodat twee kleintjies uit die pad kan wees van die drie lawaaimakers.
Jasper en Ethan is eerste. Jasper(5 jaar) is n baie aktiewe klein klits. Ethan is meer besadigd, hy gaan maar so saam met alles wat gebeur.
Jasper begin sommer dadelik die lakens uitdeel om die PS4 aan die gang te kry. Hy pluk die Skyf(CD) uit die kassie. Hy weet nie hoe om dit versigtig te doen nie. Hy vat met sy taai vingers aan die kant waar hy nie moet vat nie.
“Stadig net eers. Laat ek jou wys hoe.”
“ Nee, ek weet hoe!” kom die antwoord en gryp weer die Skyf uit my hand.
Ek laat hom dit insit. In die tussentyd bly hy aan die verkeerde kant vashou. Ons twee is naderhand in n opgewonde en luidrugtige gesprek betrokke. My donkie hol nou met ons altwee weg!
Ek:”Laat my help!”
“Neeeee, ek kan dit doen.”
Skyf is in en die program wil nie oopmaak nie. Dit bly sê dat die CD ingesit moet word. Ek haal dit weer uit.
Jasper skree:”Jy sit hom verkeerd in.” Hy begin kwaad word vir my.
Ek bly nie stil nie(wat eintlik seker die regte ding sou gewees het!)
“Dis reg soos ek dit doen.”
“ Neeee, dis verkeerd om!” hy bly wys hoe dit moet wees.
Steeds werk die program nie.
Ethan het die hele tyd rustig gesit en kyk hoe ek en Jasper mekaar opvryf.
Ewe droog sê hy:”Ek dink Jasper se vingermerke het dit vuil gemaak.”
“Aha, dis waar, Ethan.”
Ek haal die Skyf uit en wys aan Jasper hoe vuil dit gevat is. In die tussentyd is Jasper so opgewen hy krul hom op en wil net begin huil van frustrasie omdat ek nie doen wat hy sê nie. Ek vat die Skyf en vryf hom af aan my denim. My hoof het gesê dit help om hom skoon te kry as jy hom aan jou denimbroek afvee. (Bid jou nou aan, die hoof gebruik sy denim om dit te doen!) Dit het nie baie skoner gelyk nie. Jasper loer in die tussentyd vir my, oë vol trane.
Die Skyf is weer in die gleuf. En sowaar, daar werk hy!
“Baie dankie, Ethan, dat jy onthou het dat ons hom moet skoonmaak. Jasper, volgende keer vat jy nie weer aan die binnekant nie.”
Jasper se ogies blink sommer van lekker kry omdat hy nou kan begin met die speletjie.
In die tussentyd is daar oorlog tussen die ander drie seuns. Gelukkig kon ek verdwyn en om van die ander kinders te laat swem. Ongelukkig moes ek na die swem weer terug gaan. Ek het die drie stouters sommer elkeen in ‘n hoek laat sit tot hul afgekoel was. Hul het besef ek speel nou nie meer nie en was ewe vroom en stil nadat hul uit die hoek gekom het.
Kinders het maar ‘n ferm hand nodig om te kalmeer. Hierdie ge-”Ag liefie, wees ‘n engel en hou nou op met die lawaai asseblief;” werk nie vir die wildewragtags nie.
Hier is die InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=816935 wat vandag om 12:00 oopmaak.
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).